cassata

RESEP: Cassata – ‘n Drielaag roomyskoek

  1. Beplan hierdie resep mooi en jy sal nie spyt wees nie. Dit is moontlik om in 1 dag te doen, as jy baie vroeg die oggend opstaanen die eerste 2 lae elk vir 2 ure in n kisvrieskas laat ferm word. Na jy die 3de laag bysit, moet dit ten minste 6 ure vries. Dit is dus moontlik om 7 uur vanoggend te begin en vanaand na ete ‘n spoggerige Cassata te sny!

Bestanddele

  • 6 eiers, geskei, 4 witte bymekaar en 2 apart
  • Hou net 2 van die eiergele vir hierdie resep
  • 2 k versiersuiker
  • sout
  • 750 ml First choice room, goed verkoel
  • 3 ml amandelgeursel
  • 80 g donker sjokolade
  • 2 E kakaopoeier
  • 2 E water
  • 1 t vanieljegeursel
  • 100 g gemengde glansvrugte en neute (rooi, groen en geel glanskersies, vye, pynappel, sitrusskil, gekapte amandels)

So maak mens:

Voer ‘n losknipkoekpan met plastiek uit sodat die plastiek oor die kante hang.

 

Stap 1: 

  • Maak meringue deur die 4 eierwitte te klits tot dit begin punte vorm.
  • Voeg ⅔  van die versiersuiker saam met ‘n knippie sout in derdes by die eierwitte, tot jy ‘n glansende stywe meringue-mengsel het.
  • Klop die room styf. Hou dit in die yskas.

Vir die sjokoladelaag:

  • Smelt die sjokolade versigtig in ‘n glas mengbak in jou mikrogolfoond deur dit vir intervalle van 20 sekondes op hoog te mikrogolf en elke keer te roer tot glad. Anders kan jy dit oor ‘n kastrol kookwater smelt.
  • Roer die 2 eiergele deur die gesmelte sjokolade. 
  • Meng die kakao met die water tot ‘n gladde pasta en roer dit by die sjokolademengsel.
  • Vou die helfte van die geklopte meringue in by een derde van die geklopte room en roer dan die sjokolademengsel deur die roommengsel.
  • Giet dit versigtig in die pan.
  • Plaas vir 2 ure in die vrieskas.
  • Hou intussen die geklopte meringue en room in die yskas.

Stap 2: (na 2 -3 ure)

  • Meng die ander helfte van die geklopte meringue met nog een derde (die helfte van die oorblywende) geklopte room.
  • Meng die vanieljegeursel met die glansvrugte en neute en vou dit deur die roommengsel.
  • Skep hierdie mengsel versigtig op die sjokoladelaag wat nou al effe gevries behoort te wees.
  • Plaas in die vrieskas oornag of vir nog 2 tot 3 ure.

Stap 3

  • Klits die laaste 2 eierwitte saam met sout en die laaste versiersuiker weer volgens stap 1 tot ‘n meringue.
  • Meng die amandelgeursel met die laaste geklopte room en vou dit deur die meringue-mengsel.
  • Skep die laaste lagie oor die 2 gevriesde lae.
  • Vries nou oornag of tot dit kliphard gevries is.
  • Keer die pan om op ‘n mooi opdienbord en maak die bodem warm met ‘n warm vadoek wat jy nou en dan weer opwarm in die mikrogolfoond.
  • Knip die kante los en trek die plastiek af.
  • Garneer met vars of verglansde vrugte en mooi eetbare blomme.
  • Deel hierdie resep met iemand wat kán! 
Share on facebook
Facebook
Share on google
Google+
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on email
E-pos


VOLG ROOITAMATIE OP SOSIALE MEDIA

Ek verafsku gemorspos en deel sporadies resepte en wenke vir jou huis en tafel.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui