RESEP: Huispizza

Voorverhit die oond tot sy hoogste bakstelling, 220-240 grade Celcius. Kry vir jou ‘n geperforeerde pizzapan en sprinkel dit met koekmeel. Die koekmeel sal bietjie brand en die pizza daardie outentieke houtoondsmaak gee. Indien jy nie die effek wil hê nie, kan jy die pan net goed smeer met olyfolie. 

Bestanddele:

  • 1 kg supermark-brooddeeg  (of maak jou eie gunsteling pizzadeeg) 

Smeerbasis:

  • 1 koevertjie (125 ml) tamatiepasta
  • 100 ml olyfolie
  • 2 E olyftapenade met ansjovis (maak jou eie deur swart olywe te ontpit en dit met ansjovis en olyfolie fyn te maak)
  • 1 E basiliekruidpesto (fyngemaakte basiliekruidblare, knoffel, amandels, olyfolie en parmesaankaas)
  • 1 E suiker
  • 100 g goeie kwaliteit mozzarellakaas, gerasper
  • 100 g First Choice Cheddar, gerasper

Vir die vars bolaag:

  • roketblare
  • vars kersietamaties
  • repies gerookte Forel
  • 150 ml First Choice langleweroom
  • 25 ml balsemiekasyn  
  • klein lamsvleisfrikkadelletjies (gemaak deur lamsmaalvleis te geur met speserye en dan klein okkerneutgrootte frikkadelletjies te rol en gaar te bak in die oond. My speserykeuse is ‘n Marokkaanse mengsel van komyn, kaneel en fyn koljandersaad, sout en peper) 
  • fyngesnyde rooi uieringe
  • granaatpitte
  • fyngerasperde First Choice gegeurde Baby Gouda, (my keuse was die rissiegeur, maar jy kan ewe goed die swartpeper of grasuigeur ook gebruik.)

So maak mens:

  1. Besprinkel ‘n gemaklike groot area van jou werksoppervlak met koekmeel. 
  2. Sprinkel ook ‘n bietjie koekmeel oor jou koekroller en vryf dit rondom. 
  3. Rol jou pizzadeeg so dun as wat jy verkies. 
  4. Onthou om die deeg rond te hou, draai na elke rol die deeg ‘n kwart na regs. 
  5. Hoe dunner jy uitrol, hoe brosser sal jou pizzakors wees. 
  6. Voer jou pan met die deeg. 
  7. Indien nodig, moet jy die deeg ‘n bietjie strek met die hand. 
  8. Laat die kors rus vir ten minste 15 minute.
  9. Bak die kors vir 4 minute tot halfgaar.
  10. Kook intussen jou tamatie-smeerbasis deur al die bestanddele saam in ‘n klein kastrolletjie te verhit totdat dit goed gemeng het. Jy kan dit net so 5 minute oor matige hitte verhit en goed meng met ‘n ballonklitser.
  11. Haal die halfgaargebakte kors uit die oond. 
  12. Indien hy baie opgeblaas het, moenie skrik nie, dit sak weer mooi terug wanneer jy die bestanddele bo-op sit. 
  13. Smeer mildelik met die tamatiesmeer. 
  14. Sprinkel die mozzarella en cheddar oor. 
  15. Bak die pizza nou verder vir ongeveer 6 minute. 
  16. Pak jou keuse van bolaag op die warm pizza byvoorbeeld die roketblare, forelstukkies en gesnyde kersietamaties saam met die aangemaakte suurroom of roketblare, lamsvleisfrikkadelletjies, stukkies rooi ui en granaatpitte. 
  17. Sprinkel laastens met die fyngerasperde Baby Gouda. 
  18. Deel hierdie resep met iemand van wie jy hou en sê: “Waar wil jy wees?”

Indien jy nie die Baby Gouda gebruik nie,  kan jy Parmesaankaas of baie sterk beleë Cheddar daarvoor gebruik.

Share on facebook
Facebook
Share on google
Google+
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on email
E-pos


VOLG ROOITAMATIE OP SOSIALE MEDIA

Ek verafsku gemorspos en deel sporadies resepte en wenke vir jou huis en tafel.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui